Die Wind, die Maan en Sterreliggies
As die hemel sterreliggies
Uitkom met hul blink gesiggies,
En kom loer in donker nagte
Asof hulle vreug verwagte;
Laat ons jubel hier benede,
Totdat liggies ook tevrede
Skitter in ons blye harte,
Waar geluk Heers sonder smarte.
As die maan met bleke wange,
In die nag kom waak so lange,
En met silwerglans en vrede
Saggies skyn op ons benede;
Laat ons liefhê al die goeie,
Heel die lewe wat nou bloeie -
Bloeityd van die liefdeslewe -
Liefhê al die toekomsstrewe.
As die windjie saggies fluister
In die maan - en sterligduister,
In die blaartjies van die bome
Liedjies sing soos in ons drome;
Laat ons sing uit louter blyheid -
Jubelsang van sielevryheid;
Omdat liefde so verhewe
Soetheid bring aan heel ons lewe.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 18 Oktober 1941